Die hermeneutiek van die engel

hermeneuticsIn die kerk is hermeneutiek ‘n woord wat besig is om al hoe meer veld te wen onder alledaagse gelowiges. Predikante is al hoe meer besig om seker te maak hulle verstaan hermeneutiek reg en weet hoe om dit in die praktyk toe te pas.

Hermeneutiek het te make met die manier waarop ons tekste verstaan. Op ‘n geleerde manier sou ons hermeneutiek so kon beskryf:

Hermeneutiek is die studie van verstaanshandelinge, en dan veral van die verstaan van talige uitinge en van tekste. Waar die algemene hermeneutiek as onderdeel van die wysgerige epistemologie gerig is op die voorwaardes vir die verstaan van die produkte van die intellek, is die literêre hermeneutiek, hoewel altyd afhanklik van bg., spesifiek gerig op teksanalise (interpretasie). Lees meer oor hermeneutiek HIER.

Alhoewel die kerk uitsprake van eenstemmigheid oor die gesag van die Bybel maak is dit in hermeneutiek waar die paaie uiteen gaan.

Ek wonder hoe die kerk oor die hermeneutiek van die engel sou geoordeel het.

Josef en Maria is verloof. Die verlowing was veronderstel om ongeveer 12 maande te duur. Volgens Deut 32:22-27 het hierdie verlowing reeds ‘n wetlike status. Volgens die tradiesie, wanneer die jong meisie puberteit bereik, sou die huwelikseremonie plaasvind en die bruidegom sal dan sy bruid na sy huis toe neem. Die maagdelikheid van die bruid was ononderhandelbaar. Nou het Josef ‘n groot probleem. Sy bruid, vir wie hy baie respek het, is swanger. Die enigste verklaring is: Maria is of verkrag, of sy het vrywillig seks met ‘n ander man gehad. Hoe dit ookal sy. Sy is nie meer ‘n maagd nie en ‘n man van Josef se statuur kan nie met ‘n meisie trou wat nie meer ‘n maagd is nie.

Die punt is dat Josef alle reg het om sy verlowing met Maria te verbreek. Maar om dit te kan doen, sal hy moet bewys dat sy owerspel gepleeg het. Daarvoor sal hy haar in die openbaar in ‘n verhoor moes laat ondervra om vas te stel of dit owerspel of verkragting was. As dit owerspel was, en soms selfs in die geval van verkragting, moes Maria met klippe doodgegooi word. Josef, die ware heer, wil Maria beskerm en haar nie in die openbaar verneder en in die skande steek nie. Hy oorweeg dit eerder om in die geheim van haar te skei. Maar daarvoor sou hy by die plaaslike rabbi voor getuies moet gaan vra, en selfs dit wil hy nie aan Maria doen nie.

Josef is ‘n regverdige man, ‘n man wat aan die wet van Moses getrou was. Wanneer Josef nie weet wat om te doen nie, gaan hy terug na die wet (Woord) toe en terug na die tradisie toe, want hy wil net doen wat reg is in God se oë. As regverdige man wat in alles aan God gehoorsaam wil wees, sou dit nie die regte ding wees om met ‘n vrou te trou wat swanger is met ‘n ander man se kind nie.

Josef se verstaan van die skrif en die tradisie bring hom dus op die punt waar hy in die geheim sy verlowing met Maria wil verbreek. Maar dan daag die engel op.

En die engel interpreteer of hanteer die skrif en die tradisie anders.

“Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is kom van die Heilige Gees.'” (Matteus 1:20)

Ek wonder of ek heeltemal verkeerd is as om hierdie gebeure te verstaan as dat die engel vir Josef kom sê: Vir dit wat jy nou beleef, is daar geen vergelyking in die Skrif wat jy ken nie. As jy in hierdie situasie aan jou verstaan van die Skrif en die tradisie bly vashou, gaan jy die geleentheid by jou verby laat gaan om deel te wees van waarskynlik die grootste gebeure in die geskiedenis van die wêreld: God wat mens word.

Die engel bring Josef om dit wat Hy beleef en dit wat met hom gebeur nie net te sien binne die konteks van die wet van Moses nie, maar in besonder ook binne die konteks van die profete. En wanneer die engel Josef opdrag gee om die Seun “Jesus” (jeshua – verlosser) te noem, gaan daar natuurlik vir Josef ‘n nuwe wêreld oop.  En dan kanseleer, nullifeer, die vervulling van die profete die wet van Moses en die tradisie. In hierdie omstandighede doen Josef nie wat die wet en die tradisie sê nie. Josef doen nie dit wat hy in terme van die wet en die tradisie mag doen en selfs behoort te doen nie. In terme van die verstaan van die wet en die tradisie sou Josef die verbreking van sy verlowing met Maria voor die regverdige God kon regverdig.

Die woorde “moenie bang wees nie” wil ek byna verstaan as ‘n uitnodiging van die engel om met God te waag. Vertrou God om in hierdie ongekende situasie sy koninkryk te laat kom en jou deel te maak van sy koninkryk.  Met die uitspraak “…wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees…” sien ek hoe die engel vir Josef daarvan bewus maak dat God in sy skepping aan die werk is.

Kan die hermeneutiek van die engel ons nie dalk help om opnuut weer oor die inkarnasie (menswording) van God te dink nie. Veral dat die inkarnasie op ‘n wonderlike manier deur ons as gelowiges voortgesit word. As pinksterkerk hoef ons mos nie te wonder of God in hierdie wêreld aan die werk is nie. Maar, sou ons kans sien om met God te waag. Sou ons kans sien om op ‘n nuwe en ongekende manier met God op reis te gaan in hierdie gebroke wêreld.

Dwarsdeur hierdie verhaal sê Josef nooit niks nie. Maar tog is hy die ware held. Dalk is dit die ware helde van die koninkryk. Die mense wat sonder om ‘n woord te sê onder die leiding van God se Gees en in die lig van hulle insig in die Woord van God, bereid is om met God te waag en soms radikaal deel te wees van dit waarmee God besig is.

Die hermeneutiek van die engel vul my met verwondering.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s