HOSPITAALBESOEK

sickbedDrie hospitale in een oggend. Vyf pasiënte by drie hospitale. Een gaan vir ‘n groot operasie. Sy wil graag hê haar predikant moet vir haar bid voor sy teater toe gaan later die oggend. Ek dink ek moet vroeg daar wees, voordat sy haar “pre-med” kry. Ek lees saam met haar ‘n paar verse uit Psalm 31 en bid saam met haar. Sy sê sy sien kans vir die operasie. Die ander een is in ICU in dieselfde hospitaal. Sy kan nie praat nie. Kan nie eers haar oë oopmaak nie. Sy druk net my hand en knik stadig en met moeite haar kop as ek vra of ek vir haar kan lees en bid. Ek lees dieselfde verse en bid vir haar. Wanneer ek klaar is loop die trane oor die wange. Oë het nog steeds nie oopgegaan nie. Wanneer ek wegstap, wonder ek of ek haar weer lewend sal sien.

Toe kom die tweede hospitaal. ‘n Ma en ‘n ouma is baie siek. Volgens my gesprek met die kinders laat gisteraand is sy waarskynlik sterwend. Ek meld aan by ontvangs. Net soos by enige hospitaal. Die vriendelike man wys daarop dat dit nie besoektyd is nie. Ek wys my kaartjie wat die hospitaal vir my gegee het om te sê dat ek ‘n predikant is en wat dan vir my toegang gee buite besoektye. Die vriendelike man by ontvangs sê hulle is besig om haar te was ek moet net so bietjie wag. Ek wag geduldig. Ek verstaan dat hulle met haar besig is. Tien minute later kom sê die vriendelike man by ontvangs dat hy weer gebel het en dat hulle sal laat weet as hulle gereed is vir my. Ek hoor in sy stem die apologie dat hy eintlik nie weer sal kan bel om te vra nie. Ek wag ‘n uur. Geen verdere tyding. Ek het geen ander keuse as om te loop nie. Ek is laat vir my volgende afspraak.

Terwyl ek wegry dink ek aan hoe verskillend ek by die twee hospitale ontvang en hanteer is. Ek dink aan ander ervarings by ander hospitale waar personeel die besoek van ‘n predikant as ‘n ergernis hanteer. Ek is baie dankbaar dat dit in die meeste gevalle nie so is nie. Ek dink opnuut oor die hoekom ek dit doen. Want ‘n paar maande terug is ‘n lidmaat by die hospitaal oorlede sonder dat ek hom kon sien omdat ek op dieselfde wyse behandel is.

Ek onthou so goed hoe prof. Daniël Louw ons in die pastoraat klasse geleer het dat geestelike versorging ‘n onmisbare deel vorm van siekwees en gesond word. Ek weet nie meer of hy my dit geleer het en of ek dit maar met die verloop van tyd iewers opgetel het nie. Maar daar is ‘n verskil tussen gesond word (cure) en genesing (healing). Somtyds voel ek heling is dalk die beter woord, maar dit klink vir my asof dit ‘n aglisisme kan wees.

Gesond word is wanneer ek siek was en daar ‘n dag kom wanneer ek die bepaalde siekte nie meer het nie. Almal wat gesond is, is egter nie heel nie. Genesing of heling is iets wat met my gebeur onafhanklik van of ek gesond is of nie. Vir sommige siektes is die moontlikheid van gesond word nie daar nie. Vir genesing of heling is daar altyd ruimte. Genesing of heling is wanneer ‘n persoon vrede het met hom-/haarself; sy/haar familie; sy/haar omstandigehede en sy/haar God.

Vir hierdie genesing/heling om plaas te vind het elke mens nodig om ‘n antwoord te kry op sekere vrae. Vrae soos: Hoekom gebeur hierdie dinge nou met my? Wat sal met my gebeur wanneer ek doodgaan? Sal my familie my dood kan hanteer? Sal enige iemand my mis? Sal ek onthou word? Is daar ‘n God? Indien wel, sal Hy daar wees vir my? Sal ek tyd hê om my lewenstaak klaar te maak? As predikante begelei ons graag siek mense op hierdie reis terwyl hulle na antwoorde soek op hierdie vrae. Ek dink aan Victor Frankl wat in sy boeke “Mans search for meaning” gesê het: “Man is not destroyed by suffering; he is destroyed by suffering without meaning.” Die antwoord op die vrae gee sin in lyding.

Ek sal weer teruggaan om ook saam met hierdie persoon op hierdie reis te wees. Die engelse praat van “compassion”. Ons praat van “medelye”. “Medelye” is ‘n mooi woord. Dit beteken om saam met iemand te ly.  Somtyds ly ons saam met siekes. Somtyds lei ons saam met die familie van siekes. Somtyds lei ons saam met onwettige immigrante. Somtyds ly ons saam met ander weerloses en hulpeloses. Net soos die siekes in hospitale ook maar weerloos en hulpeloos is – sommer hier tussen ons.

Toe ek by die huis kom, het ek in my dagboek die name van twee weerlose en hulpelose mense in twee hospitale geskryf wat ek more sal gaan besoek. Ek sal weer probeer om die vrou in die hospitaal te sien. Dalk lewe sy nog.

One thought on “HOSPITAALBESOEK

  1. Ds se besoeke aan my broer in die hospitaal het vir my en my ma, Elza, baie beteken. Ons sou dit nie anders wou gehad het nie. Dankie vir jou tyd

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s