GESELSRADIO en ONWETTIGE IMMIGRANTE

Ek bring baie tyd in die motor deur. Vanoggend NG Gemeente Booysen toe en hospitaal toe en na mense toe waarvan die oupa oorlede is. Baie kere as ek ry verkies ek stilte. Ander kere luister ek radio. Iewers in hierdie jaar het ek begin om Radio 702 te luister. Dalk was dit die een oggend toe ek rondsoek na iets om te luister en ek John Robbie se program vroeg die oggend hoor. Ek het dit geniet. Die interaktiewe radioprogram waar mense op verskillende maniere kan deelneem aan die gesprek en die eerlike, openhartige en reguit manier van gesprekvoering.

Radio 702 laat my dink. Radio 702 laat my soms ongemaklik voel. Redi Tlhabi is een van die aanbieders later in die oggend. Toe sy met verlof gaan, toe los Eusebius McKaiser haar af. Omstrede is om dit sag te stel. Nou het John Robbie bedank en Eusebius McKaiser gaan John Robbie se plek permanent inneem. Vanoggend het Eusebius se gesprek gegaan oor die sogenaamde xenofobiese uitsprake (Xenofobies – onrealistiese vrees vir iets/iemand wat vreemd is) van die uitvoerende burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba.

Ek het juis oor Radio 702 die eerste keer gehoor van die burgemeester se uitsprake. Die volgende dag het die Sowetan daaroor berig:

He told a media conference in Johannesburg yesterday while reporting on his 100 days into office that these illegal immigrants got here criminally and should be treated as such.

Mashaba said he would rope in human rights lawyers to assist him and that he had spoken to respective embassies, who agreed to help with the process. “You see, for me, when I call these criminals criminals, I want them to understand that they are criminals,” Mashaba said.

Ek moet in alle eerlikheid sê dat ek aanvanklik nie gedink het daar is veel mee verkeerd nie. Selfs: “Omtrent hoog tyd dat iemand so iets sê en iets daaraan doen.”Maar, en dit is waarom ek geselsradio en by name Radio 702 geniet. Die program stel my bloot aan ander mense se menings en hulle belewenis. Geselsradio laat my luister na mense wat anders as ek is en anders as ek dink. Skielik het ek bewus geraak van die xenofobiese elemente in Mashaba se uitsprake. Wat meer is, ek het skielik bewus geraak van die xenofobiese elemente in my eie ingesteldheid en my eie gemoed.

Eusebius het die opmerking gemaak dat daar geen wetenskaplike feite is wat mens kan laat dink dat die misdaad in ons land ‘n probleem is as gevolg van onwettige immigrante nie. Een van die deelnemers aan die gesprek het die opmerking gemaak dat dit sulke uitlatings is wat mense aanmoedig om die reg in hulle eie hande te neem en wat dan so malik xenofobiese geweld kan laat ontvlam, soos dit alreeds sedert 1994 telkens gebeur het.

Sondag se teks vir die prediking is Matteus 11:2-15. In die gedeelte stuur Johannes die Doper, wat in die tronk sit, van sy dissipels na Jesus toe met hierdie brandende vraag:

Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?

Ek kan my indink in Johannes se verwarring. Met sy hele lewe het hy die pad gereed gemaak vir die Een wat hy gedink het die Messias is. Maar die koninkryk van die hemel breek nie deur soos Johannes verwag het nie.  Johannes wag onseker en teleurgesteld in die tronk dat die dinge moet uitwerk soos hy gedink het.

Jesus antwoord Johannes se volgelinge:

Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.

Die koninkryk van die hemel breek deur maar blykbaar nie soos Johannes verwag het en waarskynlik selfs gehoop het nie. Dalk nie onder onwettige immigrante nie, maar wel onder die randfigure in die samelewing. Maar randfigure is nie meer vir my ‘n gemaklike term nie. Dit skep by my die indruk van ek en ‘n paar ander mense wat in die kern(kerk) leef en daar ver op die rand van die samelewing teenoor die kern, leef die paar mense (randfigure) op die rand van die samelewing wat afhanklik is van ons ouens in die kern(kerk) se goedhartigheid en welwillendheid om die lewe vir hulle beter en makliker te maak. Ek kies eerder vir ‘n terme soos weerloos, broos, blootgestel, ens. Want hier tussen ons leef weerlose, brose, blootgestelde mense.

Ons sal moet luister na die stemme van, onder andere, onwettige immigrante om te hoor wat hulle beleef en dalk met ons eie xenofobie gekonfronteer te word. Maar ons sal moet luister na alle mense wat anders as ons is. Dalk is onwettige immigrante nie vir ons die randfigure nie, maar weerlose, brose, blootgestelde mense hier tussen ons. Mense soos die ou mense en die enkelouer gesinne en die mense vasgevang in die maalkolk van hulle eie dwase keuses of hulle eie gebrokenheid.

Vir my lyk dit asof Jesus aan die einde van 2016 in Suid Afrika dalk die evangelie aan onwettige immigrante en aan die weerlose mense tussen ons sou verkondig.

 

One thought on “GESELSRADIO en ONWETTIGE IMMIGRANTE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s